Tuesday, 15 July 2014

Vlam wat brand

Die eerste visioen wat ek gehad het (19-02-2014)


Die Here het my ‘n vlam gewys wat brand.  Hoe meer brandstof daar bygevoeg word, hoe groter het die vlam begin brand.  Dit het groter geword totdat dit ‘n vuur was.  Die vuur het groter en groter geword en hoe groter die vuur geword het hoe meer brandstof het dit nodig gehad om aan te hou brand.  Hierdie vuur het ander vlamme ook aangesteek sodat dit ook soos ‘n vuur begin brand het.  Sommige vlamme het uitgebrand, omdat dit nie aangesteek kon word nie.  Naderhand is hierdie vuur soos ‘n groot bosbrand in ‘n droë gebied waar die wind die vuur waai in die rigtings en ander droë gebiede aansteek totdat die hele wêreld aan die brand was.  Die vuur het alles wat droog is, afgebrand en groen gras het begin opkom.

Ons is die vlam wat brand en ons brandstof is Jesus Christus.  Hoe meer ons van Hom kry, hoe meer groei ons geestelik en hoe meer het ons Hom nodig.  Sommige mense gaan geestelik dood, omdat hulle nie toelaat dat God hulle aansteek nie.  Hulle vlamme is deur die wêreld aangesteek en word gou weer geblus.  Die wind wat ons waai is die Heilige Gees.  Alles wat droog is en afgebrand word is die onreinhede van die wêreld soos: afgodery, dronkenskap, hoerery, egbreek, geldgierigheid, haat, jaloesie ens.  Die liefde van Jesus Christus is die groen gras wat opkom en kleur aan die wêreld gee. 

No comments:

Post a Comment