Skriflesing: Johannes 9:1-7
In hierdie gedeelte lees ons van 'n man wat blind was van geboorte af. Iemand wat die Here so nodig gehad het. Die goeie nuus is dat Jesus die man raak gesien het. Soos Jesus verbygegaan het, sien hy nie net die man raak nie Hy sien ook sy omstandighede raak. Ek wil u bemoedig deur te sê dat God jou en jou omstandighede raaksien vandag. Die Here sien jou raak en Hy is gereed met die oplossing.
Die dissipels vra Jesus 'n belangrike vraag in vers 2. Hulle vra wie het gesondig, die man of sy ouers. Indirek vra hulle eintlik wie se skuld dit is dat hy blind is van geboorte af. So dikwels beland ons in omstandighede dan wil ons weet wie se skuld is dit. Ons word dalk gekonfronteer met moeilike uitdagings en beproewinge en dan is ons gewoonlik geneig om die die Here te vra hoekom, waarom en wat het ek gedoen om dit te verdien. Ons begin om God te blameer vir die slegte dinge wat in ons lewe gebeur.
Jesus se antwoord was eenvoudig in vers 3 "Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word."
Ons moet besef dat dinge soms met ons gebeur sonder dat dit ons skuld of iemand anders sin is. Die lewe van 'n bloedgewaste is nie altyd maklik nie en dinge verloop nie altyd glad nie.
Dalk vra u vandag : "Hoekom gebeur daar slegte goed met my? Hoekom is ek blind? Hoekom is ek 'n emosionele wrak? Is daar hoop? "
Daar is beslis hoop, u het God nodig!
"En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is." LUKAS 5:31 AFR53
As ons volmaak was, sonder foute, sonder enige gebrokenheid, moeilike omstandighede en seer sou ons mos nie God nodig gehad het nie. Probleme is daar om ons te laat besef hoe nodig ons die Here het. Net soos die blind man Jesus nodig gehad het, so het ons ook Jesus nodig om die krag van God in ons te openbaar. Die Here sien ons en Hy is gereed om Sy krag in ons te openbaar. Jou huidige omstandighede is 'n geleentheid waarin God sy krag kan openbaar. Hou op om vas te kyk in die grootte van die berg of struikelblok in jou lewe. Kyk vas in die krag wat God daarin sal openbaar.
Wanner moeilike tye kom moet ons jubel en dans van blydskap omdat God sy krag in ons gaan openbaar. Elke uitdaging, storm en beproewing is 'n geleentheid om op God te vertrou. Hy is getrou, Hy sal Sy krag in jou lewe openbaar.
Ons het egter ook 'n verantwoordelikheid, en dit is om Hom gehoorsaam te wees. Ons besef nie aldag hoe baie mag ons in ons eie hande het om die seën van die Here in ons lewe te keer nie. Twee dinge keer die werking van God in ons lewe, dit is ongeloof en ongehoorsaamheid. Die een waarop ek wil fokus is ongehoorsaamheid. Die blinde man moes eers die klei wat Jesus berei het gaan afwas het. Jesus het hom beveel om die klei te gaan afwas. Hy het 'n keuse gehad of hy Jesus gaan gehoorsaam of nie. Net so ook het ons 'n keuse of ons Jesus gaan gehoorsaam of nie. Soveel keer mis ons 'n wonderwerk of genesing in ons lewe omdat ons nie bereid is om te doen wat Jesus vir ons sê om te doen nie. Ons moet ons verantwoordelikheid teenoor God nakom voordat ons enige wonderwerke in ons lewe kan verwag. Ons moet eers die klei van ons oë af was voordat ons kan sien.
Mag die Heilige Gees ons oortuig van die klei wat ons van ons oë af moet was.
Elkeen van ons het die Here so nodig. Ons het nodig dat Hy Sy krag in ons sal openbaar. Mag u vandag opnuut die openbaring van God se krag in u omstandighede ervaar. Alles gebeur met 'n rede, al is dit net sodat God sy krag daarin kan openbaar. Die Here seën
No comments:
Post a Comment